Tuesday, 14 April 2015

Secrets from the Crypt... O donner.

So... Ek vra nederig verskoning omdat ek deesdae so lank vat om te blog. Tussen konsultasies en hofsake weet ek nie aldag of ek 'n panty dra nie... Nee rerig, dis bitter erg om alles te juggle. 



Ek het gedink omdat ek 'n moderne vrou is kan ek my career en liefdevolle huisvrou rol vervul. Ha! Groot is die skok dat dit fisies (en baie mentally) onmoontlik is. Kosmaak, sake opsom, stryk (nee ek joke net, ek koop klere wat nie stryk nodig het nie), huis uitvee, sake opsom, skottelgoed, sake opsom... Dis die verloop van my lewe nou. Maar ek kannie kla nie, want dit hou my gedagtes effens van die plek af. Die sekte...

Toe ontmoet ek iemand baie interessant wat vir my meer inligting oor hierdie lieflike "onskuldige" dorpie gee. Sy werk saam met my. Maar kom ons noem haar Debbie. Nou volgens Debbie is daar baie meer aan hierdie huisie as wat ons gedink het... Ok. Ek weet dat hierdie huis blykbaar jare terug aan my Oupa se suster behoort het. Maar die huis is so massive, dat dit verdeel is in twee familie huise en 'n enkel woonstel wat die twee familie huise skei. Nou Tannie het gebly in die ander familie huis en ons deel verhuur. Die probleem is egter dat daar soveel huurders al hier was (ek wonder hoekom - nie seker of dit die spoke of die ouderling se skuld is nie). Debbie staan toe by my toe ek my tien uur smoke break vat en vra toe casual wat ons adres is. Toe ek dit noem, toe raak haar ogies so groot soos trekker tyres.

Debbie deel toe mee dat hier jare gelede 'n man en vrou met 'n baba gebly het. Die baba kamer was in daai freaky kamer langs die kombuis. Kom ek verfris jou geheue...

Daai kamer wat ek by skryf "erg creepy"? Jip, daai een. Blykbaar was die baba daar op 'n onverklaarbare manier verwurg!!! Kyk, ek raak nie gou bang nie (NOT!!!) maar ek slaan toe daar vir jou hoendervleis uit en my haartjies agterop my nek staan soos soldate op aandag. I kid you not!!! So dit verklaar hoekom Heidi nie daar wil ingaan nie en verkies om liewers te staan en blaf in die niet in. Gelukkig is die baba nie dood nie maar die huurders het bitter vinnig ander huurplek gaan soek. En ons het maar ook besluit om daardie roete te stap... Nie so seer oor die spook nie. Meer oor die spook hier agter ons. Dennis. Hehehe. 

Eergister aand was Sersant Muskiet Peet weer besig in juis daai kamer om, wel, oorlog te voer met ons aartsvyande. Toe hy my skielik roep in 'n vreesbevange stemmietjie. CIELIE!!! KOM KYK!!! Soos flash skiet ek van die bank af tot daar. In die venster staan geskryf, in die stof met 'n vinger, die naam RIANA. "Dis seker al lank daar man" sê ek braaf en bewerig. "Nee dit is nie, eks elke fokken aand in die kamer en het die nog nie gesien nie". FREAKY AS SHIT!!! 

So nou soek ons DRINGEND ander blyplek. Behalwe vir dit slaap ek die afgelope aande nie lekker nie. Nee, dis nie kak maag of stres wat my wakker hou nie. Vir een of ander onverklaarbare rede skrik ek nou elke nag wakker soos in 'n movie. En dis weird vir my want ek drink slaappille wat my elke oggend laat verslaap. Kyk, 'n fokken atoom bom kan langs my afgaan en ek sal net omdraai en verder slaap. Maar nou word ek elke nag, dieselfde tyd, tussen 2 en 3 wakker. The witching hour...

Dis dalk hoekom dominis en die ouderling se eerste huisbesoek so brief was... Almal weet iets wat ons nie weet nie! Geen wonder die AGS het so gretig aangebied om ons huis te kom "cleanse" nie. En ons kon nie verstaan hoekom almal ons wil skoonmaak as ons elke oggend en aand shower nie!!! Maar nou weet ek hoekom almal draaie loop om die huis. GOED SO!!! Muwahahahaha!!!

So rukkie terug was daar 'n post op Facebook waar hulle genoem het dat 'n mens 'n home-made fly repellant kan maak. Jy vat 'n deurskynende sakkie en maak hom half vol water. Dan gooi jy 3 of 4 tien sent stukke in, knoop hom, en hang hom voor jou deure. Vir een of ander rede hou dit die vlieë uit jou huis uit (fok, wens dit het gewerk vir muskiete) en ek belowe jou, true as Bob, dit werk. Maar die locals het dit blykbaar nie verstaan nie want ek is nou officially gelabel as 'n sangoma. En niemand wil jou rede aanhoor nie. Maar weereens. Ons kan seker nie kla nie want vir so lank as wat daai sakkies hang is ons huis onwelkome gaste vry. Net 'n jammer dit het nie Sondag die donnerse skerpioen gekeer nie!!!




So ja mensies. Ons is effens screwed en lyk my opgeskeep met hierdie fokken spook. Ons moet dit seker maar aanvaar. Maar dis baie moeilik om DVD's te kyk met een oog op die TV en die ander op die portaal! En dit het ook nie veel gehelp toe Peet elke aand die naweek op standby uitgeroep was nie. Eish. Ek voel skoon skeel na die naweek! Maar Diana, die clairvoyant, kom kuier die naweek vir my verjaarsdag, sodat sy haar vinger na my kan uitsteek en lag omdat ek net ouer en ouer word. Ek sal maar na die naweek hoor wat haar professionele opinie is oor hierdie besigheid. Maar ek dink ons moet lyding vat van Bok van Blerk en besef: DIT IS TYD OM TE TREK!!!

Tot later, uit die stadskind se vingers...

Wednesday, 8 April 2015

Die Evil Mango Pit

En so, na 'n lang verdiende breuk keer ek terug na my ou vriend, die blog. Ek hoop jy het, soos ek, soveel paaseiers geëet dat jou broeke nie meer wil vasmaak nie en dat die gedagte aan net nog 'n eier jou sommer naar maak op die krop. Ek het mos nou genoeg tyd gehad om te dink aan hoe ek al die wonderlike dinge wat ons ervaar vir julle kan vertel. Maar een ding bly vas steek in my kop. 'n Storie wat so ASTRONOMIES was vir ons dat ons nou nog herstel van die skok en dat ons soms nagmerries ervaar.

So baie van ons maaitjies weet is ons geseën met die pragtigste en stoutste klein dogtertjie. Wel, OK, sy is nie meer fisies klein nie (alles behalwe) maar in haar liefste ou brein is sy maar nog net 'n puppy.


Die beste ding van ons huis is (behalwe vir die feit dat ons nimmer einde aksie het met muskiete) is seker maar die feit dat ons lieflike vye, lemoene en papaja bome het. En Heidi het ook die wonder van vrugte ontdek. Hierdie hond VREK oor vrugte. Sy kwyl haar dood as jy dalk sonder haar 'n appel of 'n piesang nuttig. Sy het haarself ook begin help aan die vye wat van die boom afgeval het. Tot sy besef het dat vye jou laat jeuk. Ek belowe jou. Jy het nog nooit so fokken iets in jou lewe gesien nie. Haar geliefkoosde sluit in druiwe (sonder die pitte natuurlik - safety first!), appels en dan natuurlik, die uwe sluwe...

Hierdie hond kan absoluut nie 'n mango weerstaan nie. En nog minder kan haar ma. 


Nog 'n awesome eienskap (ma) is die feit dat die boere in die omgewing so vrygewig is. Ons word letterlik toegegooi met bokse en bokse vrugte, en dit kos ons nie 'n sent nie. En natuurlik was die geliefde mango's ook een van daardie bokse. Die boere hier is kosbaar. My donner, die eerste werksafspraak wat ek met 'n boer gehad het was interessant. Ek was tee bedien in 'n pragtige roos koppietjie en boer het sy trusty ou sink beker gekies. Terwyl ons nog so sit, uiter hy: Weet jy, dit maak mos vir my so spuls... Bliksem! Ek wou opspring en my goed gryp en hardloop want hier kom 'n rape saak! Maar toe volg hy... "as die donnerse werkers nie hulle werk regdoen nie. Hoekom maak hulle mens so kwaad".

Ai, dwaal ek alweer af. Eendag het ek besluit dat dit tyd is om weg te lê aan 'n paar mango's. Soos gewoonlik as ek eet, sit Heidi styf teen jou been en loer na jou en kwyl. "Ek wonder of hierdie hond ook sal hou van Mango's" het ek myself gevra. Wel as dit so donners lekker vir my is, hoekom sal sy nie? Ek hou toe die harige mango pit na haar uit sodat sy ook kan lek en proe aan hierdie snaaksie harige ding. SKIELIK gryp sy die mango uit my hand, gulp gulp gulp en sluk die mango pit in. SY SLUK DIE HELE MANGO PIT IN MET EEN SLUK. GGGGULLLLLPPPPP. Weg is die mango pit. Peet! Hier is groot kak! Peet kom van buite af ingehol, reg vir aksie. Sy het die hele pit ingesluk! Wat de moer doen ons nou??? Dis Saterdag na-middag. As jy 'n oop winkel of iets hier kry daai tyd dan wen jy 'n kar, wat nog te praat van 'n veearts! 

Kyk, die pit was huge. 

Jip, om en by daai grote. Nee ek joke net. Maar dit was huge. Frantic gryp ek die telefoon boek en soek tot ek die eerste nommer van 'n veearts kry. Gelukkig kry ek 'n noodnommer op die antwoord masjien en kom toe by 'n baie interessante mens uit. "Middag, ja, wat wil jy hê"? Umm. Middag. Ons sit met 'n effense probleem. Ons boerboel het 'n mango pit ingesluk. "Effense probleem? Dis 'n moerse probleem". Ek voel al hoe 'n traan afrol van my wang. "Meisiekent, jy sit met 'n kak situasie. Daai hond sal mos nou nie 'n fok daai pit kan uitkak nie. En sou daai hond besluit om te kots, draai daai dêm pit mos skuins". Fok Oom, hoe maak ek nou? Nou slaan ek al in 'n koue sweet uit. "Jong, ja. Of hy moet kak, of hy moet kots. En as dit nie werk, sal ons moet sny en daai ding uithaal. Nou dis 'n kak situasie". Fok jy reken??? Hy adviseur ons om Heidi dop te hou vir 48 uur, sonder om haar sy te verlaat sodat ons kan sien of sy verstik en of haar hol skeur. Nice. Die arme hond het gedink ek en Peet is lekker befok. Oral waar sy loop, is ons. Oral waar sy wil crap, is ons wat duime vashou. Shame. Nou dat ek dink daaraan. Ek kannie eers toilet toe gaan waar 'n Huisgenoot man of vrou vir my lag nie. Daai oë volg jou oral!

Die volgende middag sit ons by die tafel, uitgeput van hierdie kak storie. Heidi lê langs ons op die vloer. Eintlik al gatvol vir ons want sy wil ons nie eers kyk nie. En toe gebeur die wonderwerk...

Heidi het begin ruk en ruk, oë raak so vaag vir 'n oomblik, en toe skiet hy uit soos 'n rocket! Daar kots sy die mango pit uit!!! Kyk, ek was in my lewe nog nooit so bly om kots op my kombuis vloer te sien nie. Die hond kry toe sommer 'n moerse been, 'n moerse applous en Peet loop haal solank die mop en emmer. Shame, al die haartjies was verteer van die pit af. Toe kry ons 'n spierwit pit terug. Maar sy het toe ook sommer verlig gelyk dat hierdie plat rugby bal uit haar maag is. En baie verlig dat haar stalkers haar nou kan uitlos...

So ek kan 100% sê that it was good while it lasted, maar hierdie hond sal nooit weer haar tong, tande of maag sit op 'n mango nie. As ek geweet het dit gaan soveel drama afgee, het ek liewers die wrede ding gedoen en dit weg gegooi sonder om vir haar 'n stukkie te gee. Soos ek met my chocolates doen... Hehe...

Nou ja, tyd om te besin oor my dade vir die dag. Tot later uit die stadskind se vingers.