En so, na vele versoeke, het ek toe uiteindelik besluit om te begin blog oor waar ek myself bevind. Ek is gestrand in vaal Vanrhynsdorp, populasie 1000 (of minder). Waar die fokkol knie hoog groei en die son jou asvaal brand. Die beste beskrywing wat ek seker al gekry het is dat ons van die hel geskei word met 'n sifdraad. Dis 100% korrek, en dan het jou sifdraad nog gate ook in...
Baie mense probeer om my moed te gee en stuur elke dag boodskappe van versterking, kop-hou en die "you can do this" toon... maar wat ek eintlik voor vra is boodskappe van Innige Simpatie. Jy sien, dit is nie maklik nie. Mense droom om op die platteland te kom bly. Die joys van wakker word met die geblêr van skape, die kekkel van hoenders en absolute stilte. Ek erken dat ek eens op 'n tyd ook so gevoel het. Maar na 26 jaar in die stad raak mens gewoond aan ambulanse, kar alarms, die gezoem van die verkeer, vliegtuie, selfs geweerskote. En dit klink snaaks maar ek mis dit. Party dae word dit so stil dat jou ore suis en dat jy amper die duiwel duidelik kan hoor op jou skouer. "Ja", argumenteer mense, "julle is veilig en julle kan slaap met oop deure en vensters". Ja seker, maar dan kry jy 'n erge intruder van vreeslike proporsies. Die muskiet. Kyk, oor muskiete kan ek boeke en boeke vol skryf. Op die oomblik is dit die ding wat my die grootste intimideer. Kan jy glo dat ietsie so klein 'n volwasse vrou kan intimideer? Elke aand suit ek en Peet op met ons gear. Ons plug ons blou liggie in, ons skakel Raid Liquid aan, ons steek Citronella kerse en wierook op, ons brand Tee Tree olie en dan gryp ons ons beste vriend - Zap Em Dead. Die elektriese tennis raket wat veronderstel is om enige ding, wel, dood te zap. Maar helaas herklaas, dit werk nie.
Die muskiete hier is 'n phenomena wat ek nooit sal verstaan nie. Jy sien, in die Kaap het Zap Em Dead hulle so geshock dat daar net as en stofwolkies oor was. Hier gaan lê hulle 'n bietjie, bou momentum op met hulle vlerkies en dan vlieg hulle verder. Dis verskriklik. Die fan help ook nie veel nie want hierdie muskiete is ge-equip met 1000 cc engines. Hulle zoem tot anders as in die Kaap!
Maar ja, terug na die storie... Op Facebook het my geliewe vriende en kennisse al afgelei dat ek nie baie opgewonde is oor my nuwe tuiste nie. Go figure. Ek moan elke dag oor die mense, die hitte, die onkundigheid. Die primitiwiteit (is dit ooit 'n woord?). Hier bel jy die munisipale jam lorrie as jou drain vol is. Daar is hulle bietjie meer tegnologies want jy kan swipe met elke pomp. Die huise is van klei en word nogsteeds so gebou. Jy kannie die ketel en die stoof saam aansit sonder om die hele straat se krag te trip nie (somtyds werk dit in tye van revenge). En dan besef mens hoe bederf ons werklik in die groot stad was. 24 uur apteke, McDonalds twee uur in die oggend, winkels wat oop is tot in die oggend ure. Baie baie bederf. En mens kom nou agter hoe for granted jy dit neem.
My laaste Facebook tirade was omdat niemand hier 'n goeie woord het vir Kapenaars nie. Jy word gelabel as 'n smart ass skelm. "Oe neeee, die Kaap is te rof! Ons harte sal dit noooiittt hou nie." (Wens ek kon die hele dorp oplaai en kyk of hul harte dit werklikwaar nie hou nie). Tot die bergies is van 'n ander kaliver. Jy maak die deur oop en voor jou staan 'n dronk bergie wat aan albei kosyne vashou en nogsteeds val oor sy eie voete. "Meneer, ek is so moeg geloep. Gee dan daar 'n lift na die Noord". Wel, na 26 jaar se streetwize gewoontes het ek al geleer dat dit beter is om nie te stry nie en die deur toe te gooi. Soms is hulle opdringerig en dan bring ek my wapen. Sien onder:
Jip, sy is meer akuraat as 'n haelgeweer.
Wel, die Kaap se dokters is goed genoeg. Ons hospitale is goed genoeg. Ons strande is lekker in die vakansietye om die stof af mee te was. En moenie ons malls weggooi nie... My kommentaar was te erg vir hulle om te verwerk en vir 'n slegte houding het ek my werk verloor. (Good riddance to you too!). True as Bob.
So nou is ek nie net gestrand in die plek nie... Ek het nie eers iets om te doen om te vergeet nie. Hence my blog.
Hoekom gaan julle dan nie terug nie, mag jy vra. Jy sien. Ek het iets geleer by iemand. Om te gaan is niks, dis die teruggaan. As Peet more vir my sê "bokkie pak jou goed, ons fokkof", dan hardloop ek my bene breek agter my koffers aan. Maar om te trek is duur. En dan pop 1000 vrae op: waar gaan ons bly? Wat gaan ons doen? Hoe kry ons ons goed in die Kaap? Ek begin al wonder of ek nie 'n fondsinsameling moet hou nie. Die Help Them Get Out fonds stig.
Elke keer as ek kyk na die dorpie kom Die Stem in my kop. "Oor ons vêr verlate vlaktes". En soveel mense het my al gevra "waar is die plek"? Tussen fokkol en nêrens is my antwoord. Duskant ombliksem. Hier is nie eers 'n mooi view nie. Niks om oor huistoe te skryf nie. Maar baie om oor te blog. Jy kan jouself nie eers troos met 'n bottel ietsie nie. Olof beloop teen R127 'n bottel. 'n Pakkie sigarette, en dis nou die cheapies, beloop teen R22 'n pakkie. Dus is dit seker die enigste plattelandse dorp met die minste alkoholiste. Eish wena. Ja sure, vleis is goedkoop. Want jy kan dit by jou buurman koop. Maar vleis maak nie die hart vol borrelende geluk nie. En drank en sigarette verdoof net effens maar dit maak nie die eina gesond nie. 'n Trippie Kaap toe beloop so R1000 net vir petrol. En dan ry jy nog met 'n kar wat lig is op petrol. En dis 'n ding wat mos donners duur is hier.
Nou ja, dit was skrywe een van die Sprokie van 'n Stadskind. Tot more... Of netnou...
Ek het per toeval gesien van jou blog. My innige simpatie is met jou in jou tyd van 'nood', maar ek hoop tog dat jy een van die dae die mooi in die plek sal uitsnuffel, of ten minste kan uitbars van die lag oor die simpel situasie waarin jy jouself bevind (soos ek nou net het). Hou aan skryf - if nothing else gee jy vir ons, die armsalige mensdom, iets om hardop oor te lag!!! Ek sien uit na jou volgende stukkie! xoxo
ReplyDelete